In Suid-Afrika is daar spesifieke onsekerhede wat plaasgemeenskappe in die gesig staar. Die mees kommerwekkende is: die voortslepende droogtes, verwarring oor grondhervorming en voortdurende plaasaanvalle. Die Here is die enigste Een wat kan en wil help in situasies wat vir ons hopeloos en oorweldigend voorkom.
Die doel van hierdie artikel is om ‘n ‘Gebedswagstrategie’ te deel wat die Here gegee het om plase in Suid-Afrika te beveilig. Die strategie kan ook aangepas word vir ander situasies, soos bv. om te bid vir dorpe en stede, strate en ander areas in die land.
Die fokus is dus nie om fisiese plaaswagte wat reeds funksioneer op te rig nie, maar eerder om ‘gebedswagte’ of ‘n ‘gebedskild’ op te rig. Die begeerte van die Here is dat daar doelbewus, gefokusd en volhardend gebid word vir elke plaas in die land en vir die mense op die plase by die naam. Die gebede gaan nie net oor beskerming nie, maar ook oor die vooruitgang van die Koninkryk van God op elke plaas.
Die strategie
Fisiese plaaswagte sowel as ‘plaas gebedswagte’
Net soos in die tyd van Nehemia, toe hulle die mure met een hand herbou het terwyl hulle die wapens in die ander hand gereed gehou het, is ons ook besig om geestelike ‘mure van gebed’ rondom ons plase en plaasgemeenskappe te bou. Terselfdertyd word fisiese plaaswagte op die grond gevestig in teen enige moontlike oortreders of plaasaanvalle (Nehemia 4:16-23).
Daar bestaan huidiglik reeds op baie plaaspaaie fisiese plaaswagte, met persone wat daagliks die paaie patrolleer. Die doel is nou om ook ‘Plaas Gebedswagte’ op elke plaaspad binne plaasdistrikte te vestig in die land. Dit mag soos ‘n oorweldigende taak klink, maar die Here het ‘n baie eenvoudige strategie gegee (sien: ‘Hoe om deel te neem‘). Hierdie artikel verskaf ook Gebedsriglyne wat maklik is om te volg en wat jy met ander kan deel.
Die gebedsfokus
Die fokus van elke ‘Plaas Gebedswag’ is soos volg:
- Bid vir elke plaas by die naam (onbewoonde plase ook).
- Bid vir elke boer en gesin by die naam.
- Bid vir alle personeel en gesinne.
- Bid vir alle plaasbedrywighede bv. oestyd, saaityd, lamtyd, dag-tot-dag bestuur, ens.
Die belangrikste is dat een persoon net ‘n begin maak.
Hoe om deel te neem
1. Woon jy op ‘n plaas? As jy op ‘n plaas woon, dan is jou plaas op ‘n plaaspad geleë wat deel uitmaak van ‘n paar plase op jou plaaspad.
2. Reageer op die oproep: Een persoon wat op ‘n plaas op ‘n betrokke plaaspad woon, reageer op die oproep om ‘n wagter vir daardie plaaspad te word.
3. 10-15 Minute: Hy/sy onderneem om 10-15 minute per dag volgens die gebedsfokus vir elke plaas en boer by die naam te bid, sowel as om te bid vir alle personeel en aktiwiteite op die plase. (Sien asseblief die Gebedsriglyne).
4. Nader ander om deel te word: Indien jy weet van een of meer ander Christene op jou plaaspad, bid daaroor om hulle te nader om ook deel te word van die ‘Plaas Gebedswag‘.
5. Behou kontak: Die plaaspad Koördineerder kan ‘n WhatsApp groep begin om relevante inligting, Woordgebede, waarskuwings of gebedsversoeke wat van die fisiese plaaswagte (polisie of ander) ontvang word, deur te gee. ‘n Maandelikse gesamentlike gebedstyd kan met al die bidders op die plaaspad gereël word om mekaar te bemoedig.
6. Distriksplaaswag Koördineerder: Vertrou die Here vir iemand om na vore te tree wat die koördineerder vir die hele dorpsdistrik kan wees met die doel om met almal wie betrokke is kontak te hou en te bemoedig.
7. Gekombineerde gebedstye: Die Distriksplaaswag Koördineerder kan ‘n maadelikse of twee-maandelikse gebedsbyeenkoms reël met al die ‘Plaas Gebedswagte’ binne hulle dorpsdistrik om mekaar te bemoedig en om saam te bid.
8. Dorpsbewoners: Inwoners van dorpe of stede is baie welkom om deel van die ‘Plaas Gebedswagte’ te word, om hulle in gebed te ondersteun. Iemand wat in ‘n dorp of stad woon kan, indien hulle die name kan bekom, ‘n plaaspad in gebed aanneem en so deel van die Here se plan word
As een persoon net bereid is om te begin, is die Here getrou om te help om wysheid en leiding te gee oor hoe om met meer mense te netwerk. Wees dapper, wees sterk, want die Here julle God is met julle!
Gebedsriglyne
Die fokus van die gebede is nie om ‘teen enige iemand’ te bid nie. Die fokus is eerder om jou oë en hart op die Here te rig en jou versoeke voor Sy troon van genade te bring om genade te vind vir hulp in tye van nood (Hebreёrs 4:18).
- Verneder jouself: Verneder jouself voor die Here en laat die Heilige Gees toe om jou hart en gedagtes te deursoek om te sien of daar enige bitterheid, woede, hoogmoed, rebellie, selfsug, oneerlikheid of enige sonde in jou hart is (Johannes 16:8).
- Berou en belydenis: Bely enige sondes sodat jy voor Hom met ‘n rein hart en suiwer hande kan staan (Nehemia 1:4-11; Psalm 24:3-4; Psalm 51:10).
- Wy die grond aan Hom toe: Die Woord leer dat die aarde en die volheid daarvan in die eerste plek aan die Here behoort. Wy daagliks die plase op jou plaaspad aan Hom toe (Psalm 24:1; Levitikus 25:23-24).
- Rentmeesters van die grond: Bid dat die Here boere sal leer hoe om goeie rentmeesters te wees van die grond wat Hy aan hulle toevertrou het (Lukas 12:42-44; Genesis 2:15).
- Redding van verlorenes: Bid vir die redding van verlore siele op elke plaas (Matteus 9:13). Bid dat boere as herders op hulle plase sal optree om mense na Jesus te lei.
- Bid vir gesinne: Vir sterk gesinsbande en goeie interpersoonlike verhoudings. Bid dat huwelike die uitdagings sal weerstaan. Moeilike tye kan sy tol eis op huwelike en gesinne. Bid dat die moeilike tye tot gevolg sal hê dat gesinne nader aan mekaar sal kom en mekaar sal ondersteun.
- Herstel van verhoudings: Daar is dikwels baie wantroue tussen verskillende mensegroepe en sommige politieke partye hits dit verder aan. Bid vir herstel en versoening in verhoudings tussen boere en werkers/personeel; vir vertroue om herstel te word waar dit geskaad is. Vra vir ‘n gewilligheid om saam te bid. Wantroue sal begin verdwyn wanneer mense mekaar se harte in gebed hoor (Jakobus 5:16; Handelinge 17:30; Handelinge 3:19).
- Dien mekaar: Bid vir almal op plase om te leer hoe om mekaar in liefde te dien. Geen enkele persoon is voor die Here belangriker of word hoёr geag as ‘n ander nie. Doen belydenis vir alle hoogmoed, wanopvattings en misverstande wat verdeeldheid bring (Jakobus 4:10).
- Bid Woordgebede: Deel spesifiek gebede uit Skrifgedeeltes met mekaar wat die Here verhoog. Verklaar Sy Woord oor plase en op elke plaaspad. Sy Woord is Gees en lewe, en het skeppende krag wanneer ons dit bid en verklaar (Johannes 6:63).
- Reën: Bid vir seisoenale reën op plase sodat daar ‘n oorvloed voedsel in die land kan wees wat nasionale voedselsekuriteit sal verseker (Levitikus 26:3-4).
- Beskerming: Bid vir beskerming op plase teen aanvalle, brande, peste en plae, vir gesondheid, ens. (Psalm 27).
- Indringing deur booswigte: Bid teen die invloed van idividue wat met slinkse planne die harte van niksvermoedende en onskuldige persone wil lok na opstandigheid en towery (Psalm 91).
- Die fisiese patrollies: Dit is baie belangrik om te bid vir diegene wat fisies wag staan op plase. Dit kan ‘n uitputtende en spanningsvolle taak wees. Bid dat hulle nugter en waaksaam sal wees en sal onderskei wanneer daar moontlik dreigende gevaar is; vir hulle persoonlike welstand en vir hul gesinne; en ook vir hulle emosionele genesing waar hulle soms moeilike en/of traumatiese situasies beleef het.
Praktiese idees
1. Gesamentlike gebed: Die bidders betrokke by daaglikse ‘gebedswagte’ kan weekliks of twee-weekliks op een van die plase bymekaar kom om saam te bid. Dit kan op ‘n roterende basis geskied.
2. Betrek boere by die gebedstye: Nadat gebedsgroepe vir ‘n paar weke gebid het, kan hulle ook boere van die omgewing nooi om aan die gebedstye deel te neem en dalk ‘n maaltyd saam te nuttig op ‘n tyd wat hulle pas.
3. Skriflesing en gebed met personeel: Boere kan aangemoedig word om daagliks Skrifgedeeltes met personeel te deel en saam met hulle te bid. ‘n Eenvoudige riglyn is om te begin deur die Onse Vader saam te bid, of ander bekende gedeeltes soos Psalm 23, Psalm 121, ens. Woordgebede kan op die WhatsApp groepe geplaas word en kan van groot hulp wees vir boere wat sulke tye van Skriflesing en gebed lei.
4. Gebedswandelinge: Verder tot die gebede op die groep, kan gebedswandelinge op plase ook plaasvind. Bid by die huise van personeel, by waterbronne bv. boorgate, damme en riviere, by oeslande, in kampe waar vee en diere wei, by die hekke of ingange van plase, ens. Alle Christen-personeel kan genooi word om deel daarvan te wees. Bid vir beskerming, nie net teen indringers en plaasaanvalle nie, maar teen verwoestende brande, plae en siektes in gewasse en lewende hawe, natuurrampe, ens. As die area te groot is om te voet te loop en bid, kan mens ry en bid. Laat die Heilige Gees toe om julle daarin te lei. Onthou die Here se plan is dat daar vir elke deel van die grond gebid moet word.
5. Uitbreiding van die Koninkryk van God: Bid altyd dat God se koninkryk in elke persoon se lewe sal kom op elke plaas en dat die Koninkryk sal groei deurdat persone gered word. Gebedstye met alle personeel en boere op die plaaspaaie kan gereël word waar die Evangelie boodskap gebring kan word. Gesamentlike byeenkomste vir jeug kan op plase gereël word om hulle aan die Evangelie van die Koninkryk bloot te stel en om byvoorbeeld leierskapopleiding aan te bied. Die Here het beslis ‘n plan vir elke plaas en area, en Hy sal leiding gee as ons Hom vra.
Hou aan om ‘n ‘muur van gebed’ te bou
Mag die Here ons genade gee om voortdurend te waak en te bid. Bou ‘n ‘muur van gebed’ rondom plase tot Sy eer. Mag die Here, wanneer Hy die plase voor Sy oë sien, vind dat daar ‘n ‘muur van gebed’ rondom elke plaasgemeenskap gebou is, sodat Sy planne en doel vir die hele nasie in vervulling kan gaan.
Bestudeer asseblief die boek van Nehemia en volg sy voorbeeld van gebed (Nehemia 1:4-11). Mag jy bemoedig word om op te staan en te bou (Nehemia 2:18); om nie ontmoedig te wees deur die vyand of as ander nie wil saam bou nie (Nehemia 2:20; Nehemia 4:7-9; Nehemia 3:5); en mag jy sien hoe mense na die Here Jesus Christus terugdraai, voor Hom saamkom in gebed, die Woord bestudeer en hoe die Koning van die konings wat leef en regeer tot in alle ewigheid, verheerlik word soos in Nehemia 8 en 9.
Vir verdere inligting of enige vrae, stuur ‘n epos na kingsgate8@gmail.com
Kyk video
Laai artikel af as PDF
Also available in English