(Hierdie is die tweede artikel in ons 2-delige reeks oor ‘Onbeantwoorde gebede’. Lees Deel 1.)
“Wat is die redes vir my onbeantwoorde gebede? Is daar iets fout met hoe ek bid?” Daar is geen eenvoudige antwoorde nie.
Soos bespreek in Deel 1 van hierdie reeks, is daar geen eenvoudige antwoorde op die bogenoemde vrae nie. In hierdie artikel, Deel 2, sal ons voortgaan om te kyk na aspekte wat ons moet oorweeg wanneer ons probeer om die vertraging in antwoorde op ons gebede te verstaan.
Vir oorweging (vervolg)
10. Sommige gebede is vleeslik
Lees Jakobus 4:2-3 en dink vir ‘n oomblik oor jou gebede. Hoeveel van dit waarvoor jy bid, gaan oor jouself en jou eie behoeftes? Baie keer bid mense vir sukses, maar dit gaan net oor hul eie eer en voorspoed. Selfs die gebede wat belowe om ‘God eer te bring’ wanneer sukses in ‘n saak behaal word, kan ‘n strik wees, en ons vergeet dikwels vinnig ons beloftes wanneer sulke oorwinnings toegestaan word.
Wat ons ook al vra, dit moet altyd tot God se eer wees, lei tot meer heiligheid en ons in ‘n nouer verhouding met Jesus bring. Niks waarvoor ons vra moet belangriker wees as God nie. Hy moet in die middel van dit alles staan. Ons kan ernstig wees in wat ons vra, maar kan blind wees vir die korrupsie van ons eie harte. Ons kan verkeerdelik dink ons is besig met God, maar dit gaan heeltyd net oor onsself.
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou te wys watter van jou gebede slegs selfsugtige begeertes is. Bely dit. Vra Hom om vir jou te wys wat jy moet vra wat eer aan God sal bring.
11. Bitterheid en onvergewensgesindheid
“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Markus 11:25).
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou enige vorm van bitterheid en onvergewensgesindheid in jou hart te wys en bely dit.
12. Slegte verhouding tussen man en vrou
Mans, julle moet verstandig met julle vrouens saamleef. Bewys eer aan hulle as die swakker geslag wat saam met julle deel in die lewe as genadegawe. Dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder. (1 Petrus 3:7).
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou al die struikelblokke, slegte gesindhede en verkeerde gedrag te wys wat jy teen jou huweliksmaat het. Vra die Here se vergifnis en maak reg met jou huweliksmaat.
13. God vra dat ons na die armes moet omsien
As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van ‘n arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie. (Spreuke 21:13).
Om te doen: Vra God om vir jou mense en situasies te wys waar jy kan bydra om die nood van die armes te verlig.
14. Onthou die invloed van die Bose en dat die duiwel ons kan teëstaan
In Daniël 10 lees ons hoe die engel Gabriël vir 21 dae deur die leërs van die vyand verhinder is om God se antwoord op Daniël se gebed te bring. Satan kan ons gebede verhinder of teëstaan. Wanneer ons voel dat die duiwel betrokke is, moet ons ons aan God onderwerp en die duiwel weerstaan, maar ook om God se beskerming vra (2 Tessalonisense 3:3; Matteus 6:13; Jakobus 4:7).
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou situasies te wys waar die vyand besig is om jou aan te val of teë te staan. Weerstaan hom en bestraf hom in die Naam van Jesus Christus.
15. Vloeke
Mense wat voorheen by enige okkultiese aktiwiteite betrokke was of wat nog daarby betrokke is, sal dikwels ervaar dat hulle gebede verhinder word. Dit kan ook wees dat iemand vloeke teen jou uitstuur.
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou alle okkultiese verwante aktiwiteite te wys waarby jy betrokke was of is. Bely dit en wy elke aspek van jou lewe aan God toe. Dit is raadsaam om saam met iemand wat kundig is oor die okkulte te bid en bevryding te ontvang.
16. Soms bid ons manipulerende gebede
Dit is wanneer ons ‘n selfsugtige agenda het (Jakobus 3:16) en ons wil op ander wil afdwing. Dit is wanneer ons besluit wat reg of verkeerd is of wat moet gebeur, en dan in ons gebede verwag dat God moet doen wat ons vra. Sulke gebede sal God nooit verhoor nie. Al klink dit goed op die oor, beïndruk dit God nie. Negatiewe en veroordelende gebede sonder genade en deernis, wat mense in ons gebede voor God beskuldig, sal nie beantwoord word nie.
Om te doen: Vra die Heilige Gees om vir jou enige gebed of situasie te wys waar jy jou wil op ander probeer afdwing om te kry wat jy wil hê of om dit tot jou eie voordeel te beïnvloed. Bely dit en vra God om jou hart te verander en jou te help om enige sulke gedrag te onderskei.
17. In God se geestelike skool
Daar is tye wanneer dit steeds voel asof God ons nie antwoord of na ons luister nie, en ons weet dat dit nie die duiwel of sonde of iets buite die wil van God is nie. Dit merk dikwels die seisoene in ons lewens wanneer ons in God se geestelike skool van gebed geplaas word, waar Hy ons leer van geloof en die dieper lewe saam met Hom. Dit is waar ons voorberei en toegerus word om in ‘n gebroke wêreld in te gaan om met ander mense te praat wat in ‘n toestand van pyn, verwarring en bitterheid verkeer.
Om te doen: Al is daar dinge wat jy nie verstaan nie, kies om God te vertrou en na Hom te luister. Laat Hom toe om jou na Sy beeld te vorm sodat jy Hom meer akkuraat aan ‘n lydende wêreld kan vertoon.
18. Leer om te bid volgens die Woord, die beloftes en opdragte van God
God verbind Homself om die beloftes in Sy Woord na te kom. Dit kan gebeur dat ons dinge vra wat buite die riglyne van die bevele en beloftes in God se Woord is. Maak seker dat jou gebede in lyn is met Sy beloftes en die Woord.
Om te doen: Vra God om vir jou te wys aan watter opdragte in Sy Woord jy nog in jou lewe moet oorgee.
19. Ons wil baie keer vooraf weet wat ons moet doen of wat gaan gebeur
God gee soms vir ons ‘n profetiese woord om ons die pad te wys. Die belangrike beginsel is om een tree op ‘n slag te gee, om te beweeg met die lig wat jy reeds ontvang het totdat God vir jou die volgende stap wys. As daar geen verdere lig is nie, wag.
Om te doen: Sê vir God dat jy Hom vertrou met jou toekoms en om jou onderskeidingsvermoë en begrip te gee aangaande elke profetiese woord in jou lewe.
20. Soms is ons so besig om God te vra, maar maak nie tyd om na Hom te luister nie
Baie mense het nog nooit geleer hoe om te luister nie. Vrouens bid in trane vir hul mans, ouers bid met desperaatheid vir hul kinders, maar maak nie tyd om ook te luister na wat God vir hulle sê nie.
Baie bid dat die ‘ander’ persoon sal verander, maar kan nie hoor wanneer God vir hulle areas in hul eie lewens wys wat moet verander nie. Dit is heel waarskynlik een van die hoofredes waarom gebede onbeantwoord kan bly.
Om te doen: Vra God om jou te leer hoe om te luister en Sy stem te onderskei wanneer Hy jou teregwys.
21. Soms is daar geen antwoorde nie
Wanneer alles gesê en gedoen is, sal daar altyd onbeantwoorde vrae oor onbeantwoorde gebede wees. Soms is daar geen antwoorde nie en die enigste antwoord is dan: Ek weet nie. Dit is ‘n feit dat God nie elke vraag van ons beantwoord nie. Dit beteken nie dat daar geen antwoorde is nie. God is nooit sonder antwoorde, verleë, hulpeloos of nie in staat om iets te doen nie. Hy bly dikwels stil vir redes wat ons nie verstaan nie. God is God en ons is nie.
In sulke tye, wanneer antwoorde nie kom nie, leef ons met die lig wat ons wel het. Daar is dinge wat God aan ons openbaar en daar is dinge wat Hy verborge hou. Deuteronomium 29:29: “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.” Leef volgens wat geopenbaar is en wat jy verstaan: handel regverdig, bemin barmhartigheid en wandel nederig met jou God (Miga 6:8); jy moet jou naaste liefhê en jou vyand liefhê (Matteus 5:44); verheerlik God (1 Korintiërs 6:20); wees verdraagsaam wanneer jy verontreg word (2 Timoteus 2:24), ens.
Wanneer God stil is, beteken dit nie dat Hy nie teenwoordig is nie
In Getsemane het God die Vader Jesus nie geantwoord nie – daar was net stilte. Moenie stilswye van die Here sien asof Hy nie van jou bewus is nie. Hy hoor altyd ons gebede. In alles moet ons nog meer leer van Sy wil en weë – wat hoër is as ons eie weë (Jesaja 55:9).
Laai artikel af as PDF
Article is also available in English