Swak prediking verhinder God nie om te werk nie
Skotland is in 1741 deur geweldige windstorms, hongersnood, veldbrande en in 1742 ook deur ’n buitengewone droogte getref. Ongeveer 2 000 mense het van honger omgekom. Die geestelike klimaat in die dorpie Cambuslang, suidoos van Glasgow, was koud en dood.
Die plaaslike leraar, William M’Culloch, was ’n man van God, maar nie ’n goeie prediker nie. Bidure het leeggeloop en daar was geen teken van geestelike groei nie. Die gemeente het geleidelik dieper weggesak in geestelike doodsheid, onverskilligheid en sonde. Maar toe hoor M’Culloch van die herlewing onder die bediening van Jonathan Edwards in Northampton, New England (VSA), en het begin smag na dieselfde geestelike ontwaking in Cambuslang. Hy het berigte oor dit wat God besig was om in die VSA te doen met passie en verwagting aan sy gemeente voorgelees, want hy wou ’n honger na herlewing in sy gemeente wakker maak. Hyself was ’n man van gebed en het sy mense begin leer om vir Skotland te bid. Mettertyd het die gebedsbyeenkomste begin toeneem en al meer mense het dit begin bywoon. Die Sondagdienste het oorvol geword en hier en daar het mense tot bekering begin kom.
Die bekende George Whitefield het in 1741 vir vyf dae lank ’n reeks dienste in Cambuslang kom hou. Ten spyte van die toestand van geestelike verval in Skotland was daar ’n nuwe belangstelling in God se Woord. Teen die einde van Januarie 1742 het twee lidmate ’n petisie deur die dorp geneem waarin M’Culloch gevra is om deur die week ook dienste te begin en hy was dadelik gewillig. Hy het ook met ’n gebedsgids begin wat die gemeente in staat gestel het om saam oor dieselfde sake te bid. Hierdie gefokusde gebede en gebedsbyeenkomste is ‘concerts of prayer’ genoem.
Binne ’n paar dae was daar so ’n honger na God en sy Woord dat M’Culloch elke dag van die week dienste moes hou. Binne twee maande het 300 mense getuig dat hulle tot bekering gekom het. Die kerk was stampvol en mense van ander dorpe het begin belangstel. Baie het kom kyk en luister en die Heilige Gees het hulle harte aangeraak. Soms het hierdie dienste die hele nag lank aangehou. Die bediening het so geweldig toegeneem dat predikante in die omgewing moes kom help. Hulle het begin vertel van wat in Cambuslang aan die gang was en so het die herlewing vinnig na die Skotse platteland versprei. Teen Julie 1742 het die herlewing oor groot dele van Skotland uitgebrei en George Whitefield is weer gevra om dienste in Skotland te kom hou. Meer gebedsgroepe (prayer societies) is begin, dit is beter bygewoon en daar is ook met groter erns gebid. Mense van oral oor Skotland het God gesmeek om met groter krag in hulle lewens te werk. M’Culloch en Robe (’n predikant van Glasgow) was gebedsmanne en onder hulle invloed het die societies of prayer in hulle areas ’n kragtige beweging geword en het Christene met nuwe toewyding en krag gebid.
Mettertyd is daar honderde prayer societies (klein gebedsgroepe) oor die hele Skotland gevorm. Jongmense het met oorgawe begin intree en duisende Skotte het tot bekering gekom. Teen Julie 1742 het Whitefield vir skares van tot 20 000 mense in Cambuslang gepreek. Die inwonertal van Cambuslang was maar 4 000, maar duisende het van ander dorpe en stede gekom. Soms vra mense hoe iemand vir 20 000 mense kan preek sonder luidsprekers. Die heuwelagtigheid van Skotland vorm natuurlike “teaters”, met die gevolg dat klank ver trek en daarom kon groot skares maklik hoor wat gepreek word.
Die krag van God het soos ’n weerligstraal deur die skare beweeg.
Mense se harte was gebreek oor hulle sonde en die gekruisigde Verlosser.
Talle het onder oortuiging van sonde gekom, op die grond neergeval en in trane hulle sondes bely. In Augustus het Whitefield weer dienste kom hou en nou het tot 30 000 mense sy byeenkomste daagliks bygewoon. Oor hierdie dienste skryf hy in sy joernaal die volgende: “Ek het nog nooit so iets gesien nie. Die krag van God het soos ’n weerligstraal deur die skare beweeg. Jy kon duisende sien wat huil, ander wat met wringende hande en in groot angs hardop tot God uitgeroep het. Sommige was in ’n tipe beswyming. Mense se harte was gebreek oor hulle sonde en die gekruisigde Verlosser.”
John Erskine, ’n predikant in Edinburgh, het in Oktober 1742 geskryf dat die Cambuslang-herlewing slegs die eerste vrugte was van groter dinge wat sou kom. Baie mense het na Cambuslang as die “klein wolkie” van 1 Konings 18:44 verwys en ’n groter uitstorting van die Gees verwag – en hulle is nie teleurgestel nie. In 1744 het ’n aantal leraars bymekaargekom en besluit om die Cambuslang gebedsmodel oor die hele Skotland te implementeer. ’n Reuse gebedsaksie is dwarsoor Skotland georganiseer, gekoördineer en gemobiliseer. Die gebedsgroepe is gevra om minstens een keer per week bymekaar te kom om te bid en een maal per kwartaal het al die gebedsgroepe saamgekom om te bid. Hulle het op twee dinge gefokus: a) herlewing in die kerk en b) die uitbreiding van God se Koninkryk oor die hele wêreld.
‘Concerts of prayer’
John Erskine het ’n klein boekie gepubliseer om mense in Skotland en elders aan te moedig om gereeld en gesamentlik vir die uitstorting van die krag en ’n doping met die Heilige Gees in gemeentes te bid. Die kerke het ingestem om eendragtig te begin saam bid deur onder andere spesifieke dae van die week, maand en kwartaal opsy te sit vir vas en gebed vir herlewing. Hierdie “gebedsmodel” is ‘concerts of prayer ‘genoem. Erskine het ’n eksemplaar van sy boekie aan Jonathan Edwards in Amerika gestuur. Jonathan Edwards het ’n boek geskryf wat hierdie onderwerp ingesluit het. Die boek se naam hou waarskynlik ’n rekord vir die langste titel vir ’n boek, maar gee ’n goeie verduideliking van die konsep van concerts of prayer: A Humble Attempt to Promote Explicit Agreement and Visible Union of God’s People in Extraordinary Prayer for Revival of Religion and the Advancement of Christ’s Kingdom.
Herlewing het feitlik sonder uitsondering gekom
…deur middel van ‘concerts of prayer’
Die beginsel van concerts of prayer is in Amerika gedurende die Eerste Groot Ontwaking gebruik, later in Europa en telkens oor die hele wêreld in die daaropvolgende 300 jaar. Tydens die Tweede Groot Ontwaking en die Laymen’s Prayer Revival, 1857-1858, is die konsep van concerts of prayer ook gebruik. Herlewing het feitlik sonder uitsondering gekom wanneer kerke deur middel van concerts of prayer (of doodgewoon deur gebed en gebedsgroepe) in dorpe of areas eendragtig saam gestaan het.
Laai artikel af as PDF
Kyk ook die Hebrides Revival video
Article also available in English