Wie vir ‘n arm mens iets oor het, sal self niks kortkom nie, maar wie anderpad kyk, sal baie verwensings hoor. (Spr. 28:27).
Al is daar lande wat met hongersnood worstel, is die wêreldprobleem nie ‘n voedselkrisis nie, maar ‘n prys krisis omdat ander mededingers, soos bv. etanol vervaardigers, hoër pryse aanbied om die boere se graanoeste in die hande te kry. Ten tye van publisering het ten minste 33 lande gevaar geloop vir sosiale oproer as gevolg van stygende voedselpryse. Daar is ook wêreldwyd ‘n toenemende tekort aan beskikbare vars water. Een onderliggende faktor vir die water-, voedsel- en oliekrisis is die aardbol se groeiende energie nood. As kinders van God word ons opgeroep om ons verantwoordelikheid van gebed op te neem, berou te hê oor die boosheid van die mense van ons tyd en God te vertrou om nie net die vloedgolf van die vernietiging van die aarde se bronne wat op ons afgerol kom, te keer nie, maar meer as enigiets anders die vlaag van mense te keer wat op pad is na ewige dood sonder Jesus Christus. As mense na God terugdraai, sal God die gety verander (2 Kron. 7:14). Laat ons nooit vergeet dat ons God lewe wil gee en NOOIT wil hê dat mense die dood kies nie! (Deut 30:14-20).
1. Bid vir die 22 lande van Afrika wat in gevaar is as gevolg van huidige voeseltekorte. Vra vir God se wysheid en openbaring vir elke regering om vinnig en effektief te reageer om in hulle mense se behoeftes te voorsien.
2. Bid vir die wêreld se gesondheidstoestande en vir die oorlewing van letterlik miljoene wat as gevolg van die stygende voedselpryse nie kan bekostig om kos te koop nie. Vra vir die Here om hulle wat in gevaar is sterk en gesond te hou ten spyte van hulle omstandighede en dat God in Sy genade vir hulle geld sal voorsien sodat hulle kos kan koop. Bid dat baie sal ondervind en sien dat die Here goed is en hulle lewens aan Hom sal gee.
3. Vra vir die effektiewe verspreiding van die beskikbare bronne van stapelvoedsel, soos bv. rys, koring en mielies. Vra vir guns vir Christen hulporganisasies om toegang te verkry veral tot gebiede wat geslote is vir die evangelie om sodoende die geleentheid te hê om God se liefde op praktiese wyse uit te dra.
4. Bid vir hulp groepe wat reeds agter geraak het in hulle pogings om voedsel aan die Afrika-kontinent te voorsien. Vra dat die kerk in Afrika sal opstaan en die geleentheid sal aangryp om kos te verskaf aan hulle wat in fisieke nood is en nie die geleentheid sal verontagsaam om die Brood van Lewe te deel en Lewende Water uit hulle harte te laat vloei nie (Joh. 7:38).
5. Bid teen wanvoeding wat reeds verantwoordelik is vir die dood van bykans 3,7 miljoen kinders elke jaar. Bid dat elke kind geleenthede sal hê om van Jesus te hoor, dat daar voorsiening vir hulle basiese behoeftes sal wees en dat baie wonderbaarlik van wanvoeding sal herstel. Vra dat baie lewens gered sal word.
6. Vra dat ryk lande gewillig sal wees om goedkeuring vir noodvoedsel-leniging/hulp te gee.
7. Bid dat oeste wat vir bio-brandstof gebruik gaan word, nie sal lei tot hoër voedselpryse en ‘n tekort aan voedsel op die lang duur nie. Bid dat landbou-, regerings- en wêreldleiers wyse besluite hieroor sal neem.
8. Hierdie jaar gaan omtrent ‘n kwart van die VSA se mielievoorraad na etanol vervaardigers en kan minder pluimvee of lewende hawe dus gevoer word. Bid asseblief oor die impak wat dit het op die beskikbaarheid van pluimvee en vee. In Suid-Afrika maak sommige boere hulle voerkrale toe of is verplig om radikaal af te skaal as gevolg van die stygende koste van veevoer. Vra die Here om in die harte van boere te werk en vir hulle maniere te wys waarop hulle hierdie probleme kan oorkom. Vra dat die Here die boere sal seën wat wel voortgaan om voedsel te produseer, hetsy graan, pluimvee of vee. Bid vir so ‘n kragtige getuienis dat hulle en ander boere, hulleself, sowel as hulle plase, in die Here se hande sal oorgee. Bid dat hulle nie in die strik van vinnige rykdom sal trap nie, maar hulle harte sal rig op God se plan vir hierdie laaste dae.
9. Minder as 2% van die water op die aarde is vars water. Baie waterbronne is diep onder die aarde versteek. Bid dat die Here wetenskaplikes wêreldwyd sal wys hoe om vars waterbronne op ‘n koste effektiewe manier uit moeilik bereikbare dieptes te herwin.
10. Die per capita toeganklikheid tot skoon water in alle ontwikkelde en ontwikkelende lande is besig om te krimp omdat die aantal mense en hulle water aanvraag vergroot. Bid dat regerings wêreldwyd dringend aandag sal gee aan die opgradering en vervanging van ou opgaartenks, verouderde waterpype, druppende krane en ander defektiewe infrastrukture in al hulle dorpe en stede sodat water meer effektief bespaar kan word. Ongeveer 20% van alle beskikbare vars water gaan op hierdie manier verlore.
11. Die styging in die aarde se temperatuur het ‘n invloed op die verdamping van water. Vra dat die Here miljoene Gelowiges oor die wêreld sal opwek om Hom oor hierdie probleem aan te roep. Bid dat dag en nag gebedswake oral sal ontstaan, dat mense berou sal hê oor hulle sonde en Hom sal aanroep vir die terugdraai van hulle volk se harte na God (Ps.2:10-12).
12. Bid vir alternatiewe laekoste oplossings vir die beperkte olie- en steenkoolbronne. Vra dat God vir mense in ons land kreatiewe idees sal gee oor hoe om hierdie toestande die hoof te bied, veral oor die opwekking van energie. Die Durbanse Universiteit van Tegnologie het begin om ‘n unieke projek te loods wat daarop gemik is om brandstof uit riool te produseer. Bid dat hierdie en ander projekte soos dié regverdig en suksesvol bedryf sal word en dat die mense van Suid-Afrika werklik sal baat by die produksie van hierdie newe-produkte. Dank God dat Hy al reeds besig is om gebede te verhoor. Vra dat wetenskaplikes wêreldwyd aan die Here die eer sal gee vir dit wat Hý besig is om te doen.
13. ‘n Belegging van meer as $1 triljoen sal oor die volgende 20 jaar gevind moet word om genoegsame watervoorsiening vir die wêreld se groeiende bevolking te verseker. Vra dat hierdie aangeleentheid onmiddellik deur alle regerings aangespreek sal word. Bid vir die nodige kundiges om te fokus op ontsouting, suiwering, pype, pompe en enigiets anders wat sal help om die geredelik toeganklike waterbronne te vergroot. Bid dat duisende Christene aktief by hierdie prosesse betrokke sal raak om God se wysheid en hoop na ‘n sterwende wêreld te bring.
14. Vir Suid-Afrika: Bid vir ‘n groter vermoë om bestaande waterbronne te suiwer, omdat riool ‘n al groterwordende uitdaging vir ons beskikbare waterbronne bied.
15. Oorweeg dit om ander mense te nooi om positief te bid vir die uitdagings waarvoor ons wêreldwyd te staan gekom het.
16. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom (Kol.3:17). Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Ef.3:20-21).




