Vader van my Here Jesus Christus, heilig en seën asseblief hierdie brood en wyn as verteenwoordigend van die liggaam en bloed van U Seun Jesus Christus.
Here Jesus Christus, ek verklaar dat U die Dienskneg is wat deur die profete voorspel is: U het geen skoonheid of heerlikheid gehad, dat ons na U sou kyk nie, en nie die voorkoms dat ons U sou begeer nie. U was verag en deur mense verstoot, ‘n man van smarte en bekend met pyn; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gesig wegdraai; U was verag en ons het U nie geag nie. Nogtans het U ons lyding op U geneem, en ons smarte – dié het U gedra; U is gehou vir een wat gestraf word, deur God geslaan en gepynig. Maar U is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is U verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op U, en deur U wonde het daar vir ons genesing gekom. Ek het ook gedwaal soos ‘n skaap, ek het ook my eie pad geloop; maar die Here het my sonde op U laat neerkom. U is mishandel, maar het geduldig gebly en nie gekla nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders – ja, U het nie gekla nie. U is gestraf oor die sonde van my volk. Alhoewel U geen misdaad gepleeg het nie en daar geen bedrog in U gevind is nie, was dit die Here se wil om U te verbrysel; Hy het U pyn laat ly en U siel as ‘n skuldoffer aangebied en nou sien U ‘n nageslag. Weens die moeitevolle lyding van U siel sien U die lig en is versadig deur die kennis van God; U, die Regverdige, het baie mense regverdig gemaak; en U het die straf vir ons sonde gedra. U het U siel uitgestort in die dood en was saam met die oortreders getel, terwyl U die sonde van baie op U geneem en vir oortreders gebid het (Jes. 53).
Here Jesus Christus, U het vir ons ‘n nuwe verbond geskryf in U bloed. Die nag voordat U Uself gegee het as ons versoen-offer het U die brood geneem, dit gebreek en gesê: “Neem en eet, dit is My liggaam wat vir julle gebreek is. Doen dit tot My gedagtenis.” U het ook die beker met wyn geneem na die ete en gesê: “Dit is die beker van die nuwe verbond in My bloed wat gestort is vir baie vir die vergiffenis van sonde. So dikwels as julle dit drink, doen dit tot My gedagtenis.” Wanneer ek dan nou die brood eet en die wyn drink herinner ek myself aan U dood en dat U Uself gegee het as my versoen-offer. Ek verkondig dan nou ook U dood totdat U weer kom. (Matt 26:26-28; 1 Kor 11:23-26).
Here Jesus Christus, U het ook gesê dat U die Brood van die Lewe is, wat van die Vader afgekom het uit die hemel, en as enigiemand van hierdie brood eet sal hulle vir ewig lewe. U is die Lewende Brood. Ek sal nie lewe in my hê tensy ek die vlees van die Seun van die Mens eet en Sy bloed drink nie. Maar ek neem nou deel in U vlees en bloed, en ontvang daardie lewe van U. U sal my opwek in die laaste dag. U vlees is waarlik voedsel, en U bloed is waarlik drank. Wanneer ek U vlees eet en U bloed drink, dan bly ek in U en U bly in my! As ek van U eet, dan leef ek uit U, net soos wat U uit die Vader leef (Joh.6:33-38).
Dankie, Here Jesus, vir die vergiffenis van sonde deur U bloed en dat sonde nie meer enige heerskappy oor my het nie. Dankie dat ek deur U bloed met God versoen is en volkome in guns herstel is! Dankie dat al Satan se aanklagte teen my nietig verklaar is en dat sy mag oor my verbreek is. Dankie dat ek vrede met God kan hê deur U bloed. Was my en reinig my van die effek van sonde op my hele lewe. Genees my siel en liggaam. Was my gewete van dade wat tot die dood lei en sonder my af en heilig my vir U diens. Mag hierdie nagmaal alle korrupsie wat my wese binnegedring het as gevolg van sonde, en al my bose begeertes vernietig. Laat hierdie nagmaal ‘n reiniging wees vir my liggaam en siel en ‘n voorbereiding vir ewigdurende liefde en vreugde in eenwording met U. Laat U ontferming en liefde my nou omring. Laat U Gees in my woning maak en my met U verenig sodat ek werklik U woonplek en tempel kan wees. Ek volg nou die nuwe en lewende weg wat U vir my gebaan het agter die voorhangsel in, om U te dien in die Allerheiligste by die Troon van Genade. Amen.