Wat kan vir ’n kind ’n groter seën wees as om ’n ouer te hê wat vir hom of haar bid? Gebruik hierdie praktiese riglyne en Skrif om vir jou kinders te bid, met ’n verwagting dat God in hulle lewens gaan werk.
Praktiese Riglyne
1. Dit is belangrik om gereeld vir jou kinders te bid. Probeer om minstens 3-4 dae per week tyd te maak om vir jou kinders te bid.
2. Seën jou kinders gereeld. Gebruik die gebed in 1 Kron.4:9-10 of Num.6:23-27. Jy kan dit as ‘n gebed vir hulle bid, of wanneer julle huisgodsdiens hou en dit hardop oor hulle as seën uitspreek.
3. Bid God se skeppingsdoel vir hulle. In Engels uitgedruk: Pray God’s purposes for them. Bid dat hulle sal verstaan wat God se doel met hulle lewe is en waarom Hy hulle geskep het.
4. Bid vir jou kinders op grond van God se beloftes, nie op grond van wat verkeerd is in hulle lewens nie en ook nie op grond van jou verwagtings vir jou kinders se lewens nie. God verbind Hom om sy beloftes waar te maak.
5. Moenie klaerig/kermrig wees wanneer jy vir jou kinders bid nie. Dikwels is ouers klaerig/kermrig as hulle vir hulle kinders bid. Sulke gebede is gebore uit moedeloosheid en ongeloof. Bid tot God en glo God.
6. Moenie bitterheid of onvergewensgesindheid teenoor jou kinders toelaat nie. Vra God vir liefde in jou hart: liefde wat onvoorwaardelik is, liefde ongeag wat gebeur het, liefde ten spyte van hoe jou kind optree.
7. Bespreek jou kinders eers met God voordat jy raad van ander vra. So baie ouers bespreek hulle kinders se probleme met ander, vra hulp, kla oor hulle kinders, lees boeke oor kinderopvoeding en die probleme wat hulle kinders ondervind, neem hulle vir professionele hulp, maar bid op die ou end nooit vir hulle nie. Maak seker jy bid wel vir hulle.
8. Moenie jou kinders voor God aankla nie. Jou werk is om as priester voor God te staan en te pleit vir genade en barmhartigheid. Die duiwel is die aanklaer. As jy jou kinders voor God kom aankla – alles vir God kom vertel wat hulle verkeerd doen – doen jy dieselfde werk as wat die duiwel doen.
9. Moenie die werk van die Heilige Gees probeer doen nie. Jy kan nie jou kind van sonde oortuig nie. Jy kan nie jou kind se hart verander nie. Dit is die werk van die Heilige Gees. Wees lief vir jou kind en laat die Gees van God die werk doen wat net Hy kan doen.
10. Moenie haastig wees met jou kind nie. Moenie verwag dat jou kind oornag moet verander nie. Die meeste dinge in jou kind ontwikkel deur ‘n lang groeiproses. (Onthou jy dat dit met jou ook so was toe jy ‘n kind was?). As ouers is ons verantwoordelikheid voor die Here om ‘n geestelike nageslag voort te bring (Mal.2:15)
11. Eenvoudige gebede is goed genoeg. Soms is ‘n enkelsin wat ‘n mens die hele dag telkens weer en weer bid, heeltemal genoeg. Moenie jou gebede ingewikkeld maak nie.
Wat om vir jou kinders te bid
1. Bid vir hulle redding. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang. (2 Tim.2:10) Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ’n nageslag moet wees, wat Hom eer. (Mal.2:15) “So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie.” (Matt.18:14)
2. Bid dat hulle sal groei en toeneem in liefde. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee het, ja, ’n offer wat vir God aanneemlik was. (Ef.5:2)
3. Vir eerlikheid, integriteit en getrouheid as deel van hulle waardesisteem. Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou,want op U vertrou ek. (Ps.25:21)
4. Bid God se Gees van krag en liefde en selfbeheersing om hulle te vul en dat hulle vry sal wees van vrees. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. (1 Tess.5:6) Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh.4:18)
5. Bid dat hulle ‘n liefde vir die Woord van God sal hê. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. (Ps.19:10) Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig. U voorskrifte sal my bybly. (Ps.119:48)
6. Bid dat hulle regverdig sal wees in hulle oordeel. Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees. (Ps.11:7) Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. (Mig.6:8)
7. Bid dat hulle genadig en barmhartig sal wees in hulle optrede teenoor ander. Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is. (Luk.6:36)
8. Bid vir selfrespek en respek vir ander. Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê. Vrees God. Eer die keiser. (1 Pet.2:17)
9. Bid vir ‘n Bybelse en gesonde selfbeeld. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Ef.2:10)
10. Bid dat hulle rein en heilig voor God sal lewe, vir seksuele reinheid tot en met die huwelik. Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. (Ps.51:10)
11. Bid vir vrygewigheid. 18Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. 19So vergader hulle vir hulle ’n skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry. (1 Tim.6:18-19)
12. Bid vir die vrug van die Gees in hulle lewens. 22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrou-heid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. (Gal.5:22-23)
13. Bid vir nederigheid. Maar die genade wat Hy gee, is nog groter. Daarom sê Hy: “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” (Jak.4:6)
14. Bid vir ‘n verantwoordelikheidsbesef en om wat hulle begin het, klaar te maak. Elkeen sal rekenskap moet gee oor wat hy gedoen het. (Gal.6:5)
15. Bid dat hulle vergenoegd en dankbaar sal wees. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. (1 Tess.5:18) Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. (1 Tim.6:6-8)
16. Bid dat hulle sal toeneem in geloof. 5Die apostels sê toe vir die Here: “Gee ons meer geloof.” 6Maar die Here antwoord: “As julle maar geloof so groot soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê: ‘Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see,’ en hy sou julle gehoorsaam. (Luk.17:5-6) Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. (Heb.11:1)
17. Bid vir ‘n gewilligheid en vermoë om te werk. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. (Kol.3:23)
18. Bid vir ‘n gedissiplineerde lewe en ‘n keuse om dissipel van Christus te wees. 24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. (1 Kor.9:24-27)
19. Bid dat hulle gebedslewens kragtig sal ontwikkel, dat hulle sal leer om te bid en dat gebed vir hulle ‘n vreugde sal wees. Want my tempel sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke. (Jes.56:7) Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. (Ef.6:18)
20. Bid dat hulle vreesloos staande sal kan bly onder groepsdruk. Bid vir ‘n haat vir sonde en dat hulle staande sal bly teen versoekings. Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Kor.10:13)
21. Bid vir die werking van die Sewevoudige Gees van God in hulle lewens. Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jes.11:2)
22. Bid dat hulle God se plan vir hulle lewens sal verstaan en God sal vertrou met hulle lewens. 13Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ’n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” 14Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ’n damp wat ’n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. 15Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.” 16Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. 17As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. (Jak.4:13-17)
23. Bid vir fisiese en geestelike gesondheid en beskerming en ook vir beskerming teen demoniese aanvalle. 23Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. (1 Tess.5:23-24) Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie. Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die bose bewaar. (2 Tess.3:2-3)
24. Bid vir die regte vriende en vriendinne, en vir ‘n toekomstige huweliksmaat. 5Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. 6Ken hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. 7Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is: 8dit is die geneesmiddel vir jou, die verkwikking vir jou liggaam. (Spr.3:5-8)
25. Bid dat hulle sal kan vergewe en dat daar nie ‘n wortel van bitterheid in hulle harte sal opskiet nie. Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. (Heb.12:15)
26. Bid dat hulle vreesloos sal getuig. 16Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood. 17In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (Rom.1:16-17) “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. (Hand.4:29)
27. Bid vir ‘n steeds groeiende en dieper intimiteit met God. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. 12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. (Fil.3:10-12)
28. Bid vir sagte harte wat die nood van die wêreld sal raaksien. 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt.28:19-20)
29. Bid dat hulle medelye (compassion) met/vir ander sal hê. Dat hulle ander se nood sal raaksien. Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming. (Jak.5:11)
30. Dat ons kinders sal groei in genade. Sorg daaren teen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en tot in ewigheid! Amen. (2 Pet.3:18)
31. Dat ons kinders sal leef vanuit hoop in God. Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Rom.15:13)
32. Dat ons kinders die hart van ‘n dienskneg sal hê. 5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, 7maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis. (Fil.2:5-11)
Enkele ander Skrifgedeeltes om te bid
Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek ’n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente: met sy nageslag sal dit goed gaan. (Ps.37:25-26)
Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte. (Ps.103:17)
Hy seën die woning van dié wat aan hom getrou is. (Spr.3:33)
Wie die Here dien, het daarin ’n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling. (Spr.14:26)
Wie reg doen en eerlik lewe, met sy kinders gaan dit goed. (Spr.20:7)
Ek sal volop water gee op die dorsland, strome op die droë grond. Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou nakomelinge. (Jes.44:3)
En al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. (Jes.54:13, OAV)
Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep. (Hand.2:39)
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. (Kol.3:20)
‘n Gebed om daagliks vir jou kinders te bid
Vader, ek bid vir my kinders, dat hulle sal groei in die Here, en in die krag van God, dat hulle sal groei en sterk word in die Heilige Gees (Luk.1:80; 2:40).
Stort U Gees op my kinders uit sodat hulle as profete sal optree en gesigte sal sien soos U beloof het. (Hand.2:17)
Laat hulle toeneem in Goddelike wysheid en geestelike outoriteit en laat U genade op hulle rus. (Luk.2:40)
Laat hulle verstandelik en liggaamlik groei. (Luk2:52)
Maak hulle ‘n krag in die land (Ps.112:2)
Laat my kinders toeneem in guns by Uself en by die mense – sodat hulle U werk en werke kan doen. (Luk.2:40; 2:52)
Gee dat hulle met alle vrymoedigheid sal getuig, mag U hand genesing bring en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van Jesus (Hand.4:29-30)
en mag die U Gees met hulle saamwerk deur allerhande kragtige dade en gawes van die Heilige Gees volgens U wil. (Heb.2:4.)
In Jesus Naam, Amen.




