Eenvoudig gestel, Die Apostoliese Gebede is die gebede wat die apostels gebid het, en dit kom letterlik uit die Bybel. Al die gebede wat die apostels in die Bybel gebid het, kan as basis gebruik word wanneer ons vir die Kerk bid.
Hoe doen jy dit? Dit is baie eenvoudig. Jy lees biddend deur elke verwysing na ‘n apostoliese gebed in die Skrif, dan dink jy na oor die dieper betekenis van elke vers, en hoe dit van toepassing is op jou spesifieke gemeente of die Kerk in die algemeen, en dan bid jy daardie verse! Die Woord van God is kragtig en ons lees hiervan in Jesaja 55:11, So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.
Om Skrif uit die Skrif te bid is die wysste ding wat jy kan doen! Die gebede van die apostels is letterlik beloftes van God vir die Kerk. Ons kan dit bid as ‘n belydenis voor God, of as ‘n proklamasie of as gebede van smeking. Ons begin deur ons gebede te fokus op ons eie gemeente, en dan op die Kerk in ons land en ook wêreldwyd. Om hierdie gebede te bid, leer ons om die Woord as gebedsriglyn te gebruik, en ook hoe die apostels en die vroeë Kerk gebid het.
Voordele en kenmerke van Die Apostoliese Gebede
- Dit fokus op God. Nóg Satan nóg enige demoniese mag of vloek word ooit in hierdie gebede aangespreek. Hierdie gebede is almal positief en die inhoud daarvan lei ons nie om teen enigiets te bid nie. Die inhoud is eerder om God se koninkryk in elke aspek daarvan te vestig.
- Dit fokus op die fundamentele aspekte van die geloof, die wese van Christenwees en die gelowiges se getuienis in die wêreld. Die fokus van die inhoud van hierdie gebede is op die karakter van God, die kennis van God en die Geesvervulde lewe. Wanneer hierdie dinge in ‘n gemeente sigbaar word, sal die krag van God sigbaar wees en mense vrygemaak word.
- Dit fokus hoofsaaklik op die vestiging van God se heerlikheid in die Kerk, vir wysheid en om vervul te word met die kennis van God en Sy perspektief op sake.
- Dit fokus op God se liefde en om geestelike vrug te dra. Wanneer ons hierdie gebede bid, ondersteun hulle ware dissipelskap, om goeie werke te doen, en om in die Christelike lewe met integriteit en karakter te stap. Spesifiek, dat elke lidmaat tot so ‘n mate met die Heilige Gees vervul sal word dat hul lewens die Koninkryk van God in ‘n donker wêreld sal demonstreer, veral deur tekens en wonders.
Hier volg ‘n nie-omvattende lys van gebede wat die apostels gebid het.
Apostoliese gebede van Paulus
- Groter openbaring van die Here Jesus en die bestemming van gelowiges
… bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag. (Efesiërs 1:17-19).
- Krag en Christus se inwonende teenwoordigheid
Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17 dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19 Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Efesiërs 3:16-19).
- God se liefde, onderskeidingsvermoë en geregtigheid
Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, 10 sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, 11 en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer. (Filippense 1:9-11).
- Om God se wil te ken, vrugbare bediening
… hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10 sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11 Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12 Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. (Kolossense 1:9-12).
- Eenheid
En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. 6 Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus. 7 Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God. (Romeine 15:5-7).
- Vreugde, vrede en hoop
Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (Romeine 15:13).
- Verlossing van Israel
Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle gered word, (Romeine 10:1).
- Heiligheid
Hoe kan ons na behore aan ons God die dank bring vir al die blydskap wat ons voor Hom oor julle het? 10 Dag en nag bid ons met ons hele hart om julle weer persoonlik te mag sien en om aan te vul wat nog aan julle geloof ontbreek. 11 Mag God ons Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! 12 En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. 13 So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele. Amen. (1 Thessalonisense 3:9-13).
- Heiligmaking
Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24 Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. (1 Thessalonisense 5:23-24).
10. Roeping en bestemming
Daarom bid ons ook altyd vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie en die werk van die geloof volkome maak. 12 So sal die Naam van ons Here Jesus deur julle verheerlik word, en julle deur Hom, in ooreenstemming met die genade van ons God en van die Here Jesus Christus. (2 Thessalonisense 1:11-12).
- Bevryding, geestelike oorwinning, die krag van God se Woord
Verder, broers, bid vir ons, sodat die woord van die Here vinnig mag versprei en oral in ere gehou mag word soos by julle. 2 Bid ook dat ons van verkeerde en slegte mense verlos word, want nie almal is gelowiges nie. 3 Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar. 4 Deur die Here het ons vertroue in julle dat julle doen en sal doen wat ons julle voorhou. 5 Mag die Here julle gedagtes rig op die liefde van God en die volharding van Christus! (2 Thessalonisense 3:1-5).
Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. (Handelinge 13:48).
So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei. (Handelinge 19:20).
Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem… (Handelinge 6:7).
Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen. (Handelinge 12:24).
- Oop deure en verlossing
Volhard in die gebed! Wees daarby waaksaam en dankbaar 3 en bid tegelykertyd ook vir ons. Bid dat God vir ons ‘n deur vir die woord oopmaak sodat ons die geheimenis van Christus kan verkondig waarvoor ek hier gevange sit. 4 Bid dat ek dit duidelik sal verkondig soos dit my opgelê is. (Kolossense 4:2-4).
… dat Hy vir die heidene die deur van die geloof oopgemaak het. (Handelinge 14:27).
want hier staan ‘n groot en belangrike deur vir my oop… (1 Korintiërs 16:9).
Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak. (2 Korintiërs 2:12).
… Kyk, Ek het ‘n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie… (Openbaring 3:8).
…Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring. 26 Dan sal hulle weer tot nugtere insig kom en vry raak uit die vangstrik van die duiwel… (2 Timoteus 2:25-26).
Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan. (Lukas 24:45).
- Gawes van God se koninkryk
Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, 5 want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis. 6 Die boodskap van Christus is onder julle so goed gevestig 7 dat dit julle nie aan ‘n enkele genadegawe ontbreek nie. Julle bly ook vol verwagting uitsien na die verskyning van ons Here Jesus Christus. 8 Dit is Hy wat julle ook end-uit sal laat vas staan, sodat daar geen aanklag teen julle sal wees op die dag dat ons Here Jesus Christus kom nie. (1 Korintiërs 1:4-8).
Lê julle toe op die beste genadegawes. (1 Korintiërs 12:31).
…Lê julle toe op die gawes van die Gees, maar veral daarop om te profeteer. (1 Korintiërs 14:1).
…beywer julle om te profeteer en moenie die gebruik van ongewone tale of klanke verhinder nie. (1 Korintiërs 14:39).
Apostoliese gebede van Petrus en Johannes
Durf, tekens, wonders
Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê: “Here, dit is U wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het. 25 En U het deur die Heilige Gees by monde van ons voorvader Dawid, u dienaar, gesê: “Waarom het heidennasies te kere gegaan, en het volke sinlose planne beraam? 26 Die konings van die aarde het in opstand gekom, en die heersers het saamgespan teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 “Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, 28 en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het. 29 “En nou, Here, kyk hoe dreig hulle ons. Gee dat u dienaars met volle vrymoedigheid u woord sal verkondig. 30 Laat u hand genesing bring, en laat daar tekens en wonders plaasvind deur die Naam van u heilige Dienaar, Jesus.” 31 Nadat hulle gebid het, het die plek waar hulle bymekaar was, geskud. Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig. (Handelinge 4:24-31).
Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid kan bekend maak. (Efesiërs 6:19).
Laai artikel af as PDF
Also available in English




